WANNEER IS DIT NODIG OM ‘N TERAPEUT /BERADER TE SIEN

  1. Baie mense verkeer onder ‘n effense wanindruk wanneer dit by sielkundiges en beraders kom.
  • Flieks, veral, skep dikwels die verkeerde indruk, naamlik dat ‘n sielkundige bloot passief optree tydens sessies. Soos die grappie lui: “Terapie is bloot ‘n duisend verskillende maniere om te sê mmm mmm.”
  •  ‘n Baie invloedryke sielkundige het eendag ‘n opmerking gemaak dat terapie werk wanneer jy die regte sielkundige en die regte kliënt op die regte tyd bymekaar bring.
  • So, wanneer is dit tyd om iemand te gaan sien:
  1. Dikwels voel jy dalk terneergedruk en hulpeloos, en dat daar nie ‘n lig aan die einde van die die tonnel vir jou is nie. Dit voel of niemand verstaan nie. Dan is dit ‘n goeie tyd om die hulp van ‘n berader of sielkundige in te roep.
  • Wanneer jy angstige gevoelens of paniekbevange voel, selfs soveel dat jy angsaanvalle kry, is dit die siel en die liggaam wat vir jou ‘n rooilig flikker en sê: “Help my”.
  • Dit gebeur dikwels dat bepaalde knelpunte begin kop uitsteek in jou verhouding met jou geliefde, of geliefdes. Wanneer konflik of frustrasie kan ontstaan, is wanneer jy voel jy word nie meer verstaan nie, of dat julle mekaar begin misverstaan. Dit is daardie gevoel van: “dinge is nie meer dieselfde tussen ons nie”. Dit kan begin kop uitsteek deur gevoelens van verwerping, woede, jaloesie of bloot ‘n gevoel van “Ek voel net niks meer nie”. Dit geld nie net vir verhoudings met geliefdes nie, maar ook in vriendskappe, werksverhoudings of sommer net oor die algemeen in jou daaglikse kontak met mense.
  • Soms is die spanning, angs en gevoelens van terneergedruktheid so erg dat mense gryp na drank, of ‘n oormaat medikasie, sommige eet te veel, ander hou op eet. Slaappatrone raak versteur, ‘n mens nie meer kan slaap nie of slaap jouself oor ‘n mik. Dit alles is die gees en liggaam se versoek om hulp.
  • Wanneer jou kinders skielik simptome begin ervaar, byvoorbeeld skielike woedebuie, nie meer gehoorsaam is aan die huis- en skoolreëls nie, of sommer begin onttrek of rebels raak, dan spel dit tekens van ‘n soeke na hulp. Dit kan ook voorkom in ‘n skielike verandering in skool of akademiese prestasies. ‘n Toksiese liefdesverhouding of vriendskapsverhouding waarin jou kind emosioneel geteister word kan ‘n drastiese gedragsverandering teweeg bring. Hormonale verandering in jou kind se groeiproses kan lei tot gedragsverandering en emosionele onstabiliteit, wat allerlei botsings met outoriteitsfigure kan insluit.
  • Soms weet ‘n mens eenvoudig nie wat in jouself gebeur nie. Jy voel skielik net onvergenoegd. Asof die lewe sy betekenis verloor het. Asof jy doelloos in jouself rondwaal. My siel wil groei maar weet nie hoe en waarheen nie.
  • Ander mense kry hulself dikwels nie genoegsaam emosioneel uitgedruk in die lewe nie. Dit is asof ek myself net nie kan laat geld nie. Ek sukkel met besluite.
  • Dan is daar diegene wat totaal en al vasgevang is in ‘n toksiese verhouding waarin hulle gemanipuleer word. Dit laat jou dikwels met ‘n gevoel van “ek weet nie wie ek is nie”. Ek word gebruik en misbruik, selfs dikwels emosioneel, seksueel en fisiek mishandel en geteister.
  1. Traumatiese gebeurtenisse is uiteraand dikwels ‘n bron van erge uitdagings waaraan ons blootgestel word. Die dood van ‘n geliefde, ervarings uit jou kinderjare wat erge letsels gelaat het. ‘n Kaping, aanranding of traumatiese gebeurtenis wat ek sien gebeur het of beleef het wat aan my bly knaag of wat ek nie kan verwerk nie.
  • Baie mense voel net eenvoudig ongelukkig en weet nie hoekom nie. Kom praat daaroor en ondersoek dit.
  • Die regte sielkundige en/of berader kan help deur jou te ondersteun, bemoedig, te beraad en bemagtig om ‘n ander perspektief op jou uitdagings te bied. Verskillende sielkundiges werk vanuit verskillende raamwerke en jy het die reg om te besluit of jy aanklank vind by ‘n persoon, en of jy die hulp ontvang om jou uitdagings op ‘n positiewe manier te beinvloed en op te los.

Gedagte: ‘n Mens kan meer leer uit jou mislukkings as uit jou sukses.  Moenie dat enigiets jou rem nie. Mislukkings bou karakter.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *