Deur Deon van der Merwe Kliniese Sielkundige.
Selfmoord is nie ‘n maklike onderwerp om oor te praat nie. Dit is ongemaklik, emosioneel en vir baie mense iets waaroor hulle eerder stilbly.
Maar juis daarom is dit so belangrik dat ons daaroor praat.
As sielkundige sien ek hoe maklik dit vir mense kan wees om deur moeilike tye te gaan sonder dat die mense rondom hulle besef hoe swaar hulle eintlik kry. Iemand kan by die werk wees, saam met vriende kuier, glimlag en selfs grappies maak, terwyl daar aan die binnekant ‘n stryd is waarvan niemand weet nie.
Dit is een van die redes waarom Wêreld-selfmoordvoorkomingsdag op 10 Septemberso belangrik is. Dit gee ons die geleentheid om stil te staan en te vra: Hoe gaan dit regtig met die mense rondom ons?
Ons hoef nie altyd die antwoord te hê nie
Wanneer iemand deur ‘n moeilike tyd gaan, is ons eerste reaksie soms om die probleem te probeer oplos.
Ons wil raad gee. Ons wil hulle beter laat voel. Ons wil sê:
“Dit sal beter word.”
“Jy moet net positief probeer wees.”
“Dink aan alles wat jy nog het om voor dankbaar te wees.”
Hoewel hierdie dinge goed bedoel kan wees, is dit nie altyd wat iemand nodig het nie.
Soms het iemand bloot nodig dat ‘n ander persoon luister.
Om te sê:
“Ek het agtergekom jy is nie heeltemal jouself nie. Hoe gaan dit regtig met jou?”
kan baie meer beteken as wat ons besef.
Jy hoef nie ‘n sielkundige te wees om na iemand te luister nie. Jy hoef ook nie die perfekte woorde te hê nie. Jy moet bereid wees om daar te wees.
Moenie bang wees om te vra nie
Een van die grootste bekommernisse wat mense het wanneer selfmoord ter sprake kom, is dat hulle bang is om die verkeerde ding te sê.
Hulle wonder dalk:
“Wat as ek die idee in sy of haar kop sit?”
Om iemand direk te vra of hulle aan selfmoord dink, veroorsaak nie selfmoordgedagtes nie. Inteendeel, dit kan vir iemand wat swaarkry wys dat daar iemand is wat bereid is om die moeilike gesprek saam met hulle te hê.
Dit kan so eenvoudig wees soos:
“Het jy al gedink dat jy jouself wil seermaak of nie meer wil lewe nie?”
Dit is ‘n moeilike vraag om te vra. Maar soms is ‘n moeilike vraag beter as stilte.
Kyk ‘n bietjie nader
Ons almal ken iemand wat deur ‘n moeilike tyd kan gaan. Dit kan ‘n familielid, vriend, kollega of selfs iemand wees met wie ons elke dag kontak het.
Let op wanneer iemand se gedrag verander.
Miskien onttrek hulle hulself meer as gewoonlik. Miskien verloor hulle belangstelling in dinge wat voorheen vir hulle belangrik was. Miskien praat hulle oor hopeloosheid, voel hulle dat hulle ‘n las vir ander is, of maak hulle opmerkings oor die dood.
Een teken op sy eie beteken nie noodwendig dat iemand selfmoord oorweeg nie. Maar dit kan ‘n rede wees om nader te kyk en te vra:
“Is jy okay?”
En wanneer jy vra, probeer om werklik te luister na die antwoord.
Jy kan iemand help sonder om hulle te “fix”
Ons kan nie altyd iemand se pyn wegneem nie.
Ons kan nie elke probleem oplos nie.
Maar ons kan iemand help om nie alleen daarmee te voel nie.
Ons kan saam met hulle professionele hulp soek. Ons kan aanbied om saam met hulle ‘n afspraak te maak. Ons kan die volgende dag weer kontak maak en vra hoe dit gaan.
Daardie klein dinge kan belangrik wees.
As jy bekommerd is oor iemand se veiligheid, moet jy dit ernstig opneem en professionele hulp kry. Indien iemand op daardie oomblik in gevaar is, moenie hulle alleen laat nie en kry onmiddellik toepaslike noodhulp.
Kom ons praat eerder as om stil te bly
Wêreld-selfmoordvoorkomingsdag gaan vir my nie net oor een dag op die kalender nie.
Dit gaan oor die gesprekke wat ons deur die jaar moet hê.
Dit gaan daaroor om minder bang te wees vir moeilike gesprekke. Om minder vinnig te oordeel. Om meer bereid te wees om te luister. En om te verstaan dat iemand wat swaarkry nie altyd vir ons gaan wys hoe sleg dit werklik gaan nie.
Jy weet dalk nie wat iemand tans deurmaak nie.
Daarom kan dit soms help om net ‘n bietjie meer teenwoordig te wees.
Vra die vraag. Luister na die antwoord. Neem hulle ernstig op. En help hulle om hulp te kry wanneer hulle dit nodig het.
Want ons weet nooit wanneer daardie een gesprek dalk die gesprek is wat iemand nodig gehad het nie.

